Verlede jaar se Paasfees is slegs ‘n vae herinnering. Ons het nie die naweek saam met vriende en familie deurgebring nie, maar die 4 dae vakansie benut om onsself in die huis in te grawe, en ons het net uitgegaan om te gaan voorrade aanvul. Verder het ons gesin glad nie die huis verlaat tydens Paasfees nie.
Leon het kliphard gewerk aan sy “Skills Assessment” vir die “Australian Computer Society” (ACS). Hy het net opgekom vir suurstof, kos en koeldrank en hordes koppies tee en koffie om hom wakker te hou, en krag te gee terwyl hy so verskrilik hard moes werk. Enige iemand wat die RPL-roete mos volg, sal weet waarvan ek praat. Dit was glad nie ‘n lekker naweek nie, en ek het die kinders so jammer gekry wat tevrede moes wees met paaseiers, en om hulself besig te hou terwyl Pa kliphard gewerk en gedink het. Om 7 jaar se werksprojekte op te som in detail, is nie grappies nie, en alles moes voldoen aan die vereistes wat die ACS stel vir ‘n volledige werksgeskiedenis. Glad nie ‘n maklike taak nie! Leon se oë het gehang aan die einde van elke dag, en wanneer hy in die aande op die bank neergeval het, was hy liggaamlik en geestelik gedaan. En deur die nag het hy bitter min geslaap, sy brein alweer besig om die volgende dag se werk te organiseer in sy kop voor dit op papier neergepen (neergetik!!) moes word.
Min het ons geweet dat ons ons volgende Paasfees in Australië sal vier.
Hierdie jaar kon ons ontspan en goeie "memories" bou. Saterdag het ons saam met vriende gaan wynplase besoek, en die heerlikste wyne geproe. Ons eerste stop was Sirromet, en daarna het ons 'n draai by die Suid-Afrikaanse winkel gemaak. Dit was nogal lekker om al die bekende Suid-Afrikaanse “brands” te sien, en ons is almal daar uit met ‘n sakkie of 2. En natuurlik is dit nie goedkoop nie!!
Vandaar het ons na Mount Tamborine gery, en dit was ongelooflik om teen die berge uit te ry. Ongelukkig het dit gereen, so ons kon nie rondloop en die watervalle besoek nie, maar dit was 'n heerlike dag wat ons altyd sal onthou.
Ons kon ons wynvoorrad aanvul, en het die dag baie geniet. Dis so lekker om rond te ry en nuwe dinge en plekke te ontdek. Elke keer as ons in die kar klim om iewers heen te ry waar ons nog nooit was nie, kom daar ‘n groot opgewondenheid oor ons, en dit voel of mens net inneem en al die plekke in rakkies in jou brein wil wegbêre om later weer uit te haal en weer en weer oor te beleef. Aan die einde van so dag is ons totaal en al uitgeput, en ek dink dit is omdat mense se brein soveel nuwe dinge moet verwerk, en nuwe paadjies in die brein ingegraveer word.
Hier is ‘n paar fotos van ons dag in die berge:
Bo-op Mount Tamborine het ons by 'n wynplaas die innerlike versterk, en ek kon so tussen die reendruppels hierdie pragtige dam afneem.
No comments:
Post a Comment