
Ons het van Maandag af al verskriklik baie reën gehad. Gelukkig het dit Maandag nie gereën toe die kinders bus toe moes stap nie, so hulle was darem die hele dag droog gewees. Gister was Leon by die huis saam met die kinders, omdat daar nie vir hulle skool was met die “Queensland teacher strike” nie. Van gister af reën dit die hele tyd - en nie bietjie nie! Kort-kort in die nag word ek wakker en hoor die reen, en dan wonder ek hoe op aarde die kinders by die skool gaan kom. Loop kan hul nie na die busstop nie, hul sal papnat wees as hul by die deur uitstap!!
Vanoggend toe ek opstaan, toe reën dit nog aanmekaar. Dit val behoorlik neer uit die lug. Ek besluit om maar laat te kom vir werk. Ek sal eers die kinders gaan aflaai, sodat hul darem droog by die skool kan wees. Op pad reën dit verskriklik. Op ‘n stadium gaan die dubbelpad verby ‘n groot “eiland” in die middel van die pad, seker vir so 1km, en dan kom dit weer bymekaar uit. Dit is eintlik 'n brug wat oor die "Saltwater creek" loop. Mens sien nooit die water in die "creek" nie, weet net dit is daar. Dit is regtig baie mooi, met groot bome, groen gras, en dit voel of mens skielik in die wildernis inry. Maar dis nie vir ver nie, dan is dit maar weer dorp. Maar vandag lyk die eiland soos ‘n rivier wat loop!!! "Saltwater Creek" is sterk aan die beweeg!!
Ek kan omtrent nie glo wat ek sien nie. Soos ek ry word ek al hoe benouder, want langs die pad is daar ‘n sportveld, en dis toe onder water. Dis gelukkig ‘n dubbel pad, en ek hou regs, want voor moet ek om ‘n groot verkeersirkel regs draai. Die baan aan die linkerkant lê toe van die water, en ek is baie dankbaar dat ek met ‘n 4x4 ry, want al stoot die water hoër, sal ek steeds veilig kan deurry. Ek begin toe al wonder of ek weer sal kan terug vanmiddag, want wat as die pad onder water is?
Toe ek 20 minute laat by die skool kom, sous dit behoorlik. My denim is nat, en daar is nêrens waar ek kan trap waar die water nie in poele lê nie. En ek moet daardeur!! Plaas trek ek maar my tekkies en kouse uit, maar dit reën so, ek wil net onder die dak kom. Eers toe ek in die water trap, toe besef ek is tot by my enkels in die water. My denim is deurweek, en ek weet sommer nou is ek in die moeilikheid. Ek kan nie die hele dag so rondloop nie, ek sal môre opstaan met longontsteking!
Gelukkig is almal laat gewees, en Allison (my baas) se dis niks, hul weet die verkeer is ‘n nagmerrie. Ek vra toe maar of ek gou by die winkel vir my ‘n paar droë sokkies en tekkies kan gaan kry, want so kan ek nie loop nie. Gelukkig is dit die periode net voor die registerklas, en dan het ek so 30 minute voor ek weer moet klas toe gaan. Ek ry toe gou Kippa-Ring toe, maar ek is papnat voor ek nog by die “mall” se deur in is. In my lewe het ek nog nooit so baie reën sien val nie.
Ek kry gelukkig vir my ‘n paar mooi tekkies en kouse, en koop ook sommer ‘n paar goedkoop plakkies om deur die water mee te loop. Ek besluit ek sal maar eers in die klas die tekkies aantrek, anders is die nuwes ook weer nat. Ry terug skool toe, en ek doen so 15 minute diens in die “special ed” klas voor die volgende periode begin. Natuurlik het die gr. 11 Wiskunde klas na ‘n rekenaarsentrum toe gegaan, en ek reën weer papnat soos ek die klas soek. Maar my nuwe tekkies bly darem droog. Ek het my denim opgerol tot onder my knieë, so dit lyk soos ‘n kniebroek, en dis papnat, maar ek lyk hopelik nie te sleg nie. Ek is skaars 10 minute in die klas, toe kom ‘n stem oor die interkom en se dat al die kinders na die saal toe moet gaan. Pak toe maar weer my goed weg en stap terug na die “special ed” se personeelkamer toe.
Op pad kry ek vir Trevor, een van die onderwysers, en hy se dat die polisie die skole in die omgewing laat weet dat hul moet ontruim, daar is te veel “floodings” en die kinders moet huis toe. Agv die “deteriorating weather” en storms wat op pad is, moet die kinders by die huise kom.
Genadiglik is die pad terug North Lakes toe nog oop. Dit lê bietjie hoër as die anderkant wat ek mee ingegaan het werk toe. Die anderkant is toegemaak, en die 1 baan is nou vir die karre wat ingaan skool se kant toe, die ander kant is vir ons wat wil North Lakes toe. Gelukkig is die “rivier” in die eiland heelwat laer as die relings van die pad, en ek reken dit sal heelwat meer reën kos voor dit oor my kant van die pad spoel.
Ek is een van die eerste ma’s wat my kinders by die skool gaan haal. Ek lyk soos ‘n natgereënde hoender. Plakkies, nat, opgerolde denim, papnat hare, maar ek het my kinders veilig onder die blad. En dis al wat saak maak. Ons is veilig.
‘n Heerlike dag wat ek kan inhaal op wasgoed, en die kinders is so bly, dis hul 2de dag by die huis. Ek weet nie van hulle nie. Hulle speel “games” en geniet die niksdoen. En jul sal nooit raai wat gebeur volgende nie???
Ja wraggies, 2 ure later skyn die son!!! As ek dit nie self gesien het nie sou ek dit nooit geglo het nie.
Net nog ‘n dag in Queensland, of so sê die mense wat weet. Ons sal seker nog gewoond raak aan hierdie soort weer.
3 comments:
Ja ons bly in 'n onvoorspelbare land .... wat die weer betref! :) As dit more nie te hard reen nie gaan ons fotos neem by Surfers - sien op die nuus dat die strand erg oopgespoel het.... ai dit is so jammer! :)
Goeie aarde! Ek kan net dink hoe jy moes voel, nat en koud veral. En nou moes jy nog half verniet die nuwe skoene koop,- maar ek is seker jy is half bly dinge het so uitgewerk :-)
En selfs die kids het dit verseker geniet want wie se nou needankie vir 'n af dag?
geniet jou week en hoop dit is 'n minder nat een.
Dankie Sandvlooi'e. Ja-nee, die nuwe skoene is nou sommer 'n "bargain", want nou het ek weer 'n nuwe paar. Die kinders het omtrent die dag geniet. Net mooi niks gedoen nie en net voor die TV en rekenaars gesit en games speel.
Hierdie week is gelukkig droeer! Lekker week vir julle ook!!
Post a Comment