Monday, 22 June 2009

9 Maande in Australie

Vandag, 9 maande terug, het ons in Australie geland. Dit voel soos 'n leeftyd gelede, en soms voel dit asof ons net gister die familie gegroet het en op die vliegtuig geklim het.


9 Maande terug het ek nie geweet dat ek vandag in 'n personeelkamer gaan sit en weer deel gaan wees van 'n skoolgemeenskap nie. Dat my kollegas van Frankryk, Nieu Zeeland en Australie gaan wees nie. En dat ek saam met 'n Afrikaanse vriendin in die personeelkamer so nou en dan gaan Afrikaans gesels as die ander nie naby is nie.


Dat 'n ozzie seunskind vir my gaan se dat hy nie wil he die"teacher aide" in wie se plek ek die kwartaal afgelos het, moet terugkom nie, want "you are a much better teacher than she is!". En dit is dieselfde seunskind wat die dag toe ek daar begin werk het, vir my gese het: "you speak funny, you scare me!". Dit voel asof ek weer iewers hoort, asof ek weer 'n verskil kan maak!


Dan kyk mens terug na 9 maande se swoeg en sweet, verlang na alles wat bekend was en familie en vriende wat jy dalk nooit weer gaan sien nie. En besef dat mens jou lewe kan oor begin, as jou hart daarin is en jy elke dag aanpak met geloof dat alles weer sal normaal wees en dat jy weer gaan voel asof jy behoort, nie soos 'n vreemdeling in die vreemde gaan voel vir altyd nie.


Die wete dat jy 'n dokter gevind het by wie jy tuis voel, 'n tandarts wat jou goeie vriend is, en met wie jy in Afrikaans kan gesels. 'n Kerk waar jy tuis is en waar jy saam met mense van Nederland, Australie en Suid-Afrika kan aanbid, en weet dat jy 'n tuiste gevind het.


Om winkel toe te gaan en te weet in watter gangetjie om vir 'n seker produk te soek, om te weet watter winkel se vleis die beste is en waar jy die goedkoopste klere kan koop vir jou "budget". Waar jy die garage gekry het waar petrol die goedkoopste is, en jy weet waar om jou kar te laat was. Wanneer jy 'n haarkapper gevind het wat jou hare sny soos wat jy daarvan hou, en as die kinders al die slagspreuke van die ozzie advertensies kan herhaal.


Waar jy al jou nuwe "username en passwords" kan onthou vir jou nuwe "internet banking" en jou nuwe bankkaart se pinnommer kan onthou sonder om voor jy by die winkel betaal, gou te loer wat dit nou weer is. Wanner jy in die kar klim en nie meer wonder of jy dalk gaan verdwaal op pad na die skool of die "mall" toe nie. En om al verder as die kerk te kan ry sonder om op die GPS jou bestemming te moet intik om seker te maak jy kom by die regte plek uit.


En die gemak waarmee jy by jou nuwe vriende kuier, en kan lag, gesels en simpel wees, sonder om te wonder wat hulle van jou dink, want "actually" aanvaar hulle jou net soos jy is. En die wonderlike wete dat jy weer "behoort", dat jy na die wolke kan kyk en vir almal kan vertel hoe "amazing" helder blou die lug is en hoe wit die wolke, en dat jy buite kan rondloop sonder om bang te wees.


En die besef dat jy jou lewe oor begin het, en dat dit "actually" alles die moeite werd is, want hier is jy weer vry, en kan jy weer mens wees sonder om die hele tyd oor jou skouer te kyk. Waar ek weer in die nag kan deurslaap, en nie vir elke geluidjie wakker word en angstig wag of iets gaan gebeur nie. Waar jy in die nag kan wakker word, en niks, maar niks hoor nie - net stilte!! Geen alarms wat afgaan, helikopters en polisie sirenes hoor, en honde wat deurnag blaf nie. Nee, hier het ons rus en vrede gevind!

2 comments:

sandvlooi'e said...

Baie geluk- 9mnde is lank.
Ons is al 16mnde hier in die uae. maar ek moet se, dit is bietjie moeilik om regtig goed te integreer. soos wat julle noual daar gedoen het,-Want ek dink die meeste van die mense is hier om geld te maak en om hul loop baan te bevoder, en nie regtig te bly nie. - dis maar my meening....

Nou ja mag julle 'n heerlike week he.

****************************************** said...

'n Ou vriendin van my was ook 2 jaar in Dubai, en sy het dieselfde as jy gese. Mense gaan nie om vir altyd daar te gaan bly nie, so sy het haar dood verlang na haar familie en SA.

Hoop jy het 'n heerlike week!!

3 Day lockdown

We couldn't avoid it ....... another lockdown, starting tonight at 6pm.  Only 3 days .... Let's keep our fingers crossed that it wil...

Popular Posts