Kyk, emigrasie is nie vir sissies nie, dit is nou maar só! Maar nog iets wat ek uitgevind het nie vir sissies is nie is “relief teaching”!!!!
Vir dié van julle wat nie in Oz-land woon nie, of dié wat nie kinders in die skool het of vriende het wat onderwysers is nie, sal ek gou verduidelik wat ‘n “relief teacher” is.
As jy in Suid-Afrika skool hou, en jy is siek, dan word die kinders in jou klas sommer by die ander klasse ingedeel, en hulle word opgepas vir die dag wat jy nie daar is nie. Hier in ozzie land werk dit nie so nie. Nee, hier is ‘n groot “mark” vir onderwysers wat “casual” werk. Jy registreer by ‘n Maatskappy met die naam “Tracer”, en as daar iewers ‘n onderwyser siek is, word jy vroeg die oggend, tussen 6:00 en 6:30 gebel om te hoor of jy bereid is om die dag te werk. As jy dan nou ja sê, dan sê hulle vir jou by watter skool jy moet gaan aanmeld.
Die onderwyser los gewoonlik vir jou die dag se voorbereiding op die tafel, en jy kan dan daarmee aangaan en die kinders raak nie agter met hul werk nie. (Nie dat dit juis iets is wat die ozzies voor omgee nie) En dis nie sommer hierjy nie, nee, dis ordentlike werk wat goeie geld betaal. Veral as jy ‘n onderwyser uit ‘n ander land is, is dit maar moeilik om ‘n permanente pos te kry by ‘n skool, so die meeste onderwysers begin met “relief”, tensy hulle iemand ken wat iemand ken wat hulle kan help om sommer vinnig ‘n pos los te slaan. Natuurlik is jou kan groter as jy Wiskunde of “Science” kan gee, maar ongelukkig val ek nie in die groep van geleerdes nie.
Die ozzies is so gewoond aan vreemde onderwysers wat hulle vir die dag oppas, dat dit nie eers vir hulle snaaks is om iemand vreemd voor hul in die klas te sien staan nie. En natuurlik is die ozzies ook nie dom nie, want hulle weet dat as daar ‘n “relief teacher” is vir die dag, kan hulle maak soos hulle wil, want jy ken hulle mos nie. Jy ken nie die naam nie, so dis moeilik om te skreeu vir ‘n kind om te sit en sy mond te hou as jy nie weet wat om hom te noem nie. En natuurlik is die grootste “challenge” om net deur die “good morning class, I’m ms Fouche” te kom, want skaars is die woorde uit my mond of ‘n hand skiet in die lug en vra: “where are you from?” Kyk, die aksent kan jy nie mis nie!!! En as jy dan verduidelik waar Afrika is, en dan Suid-Afrika in die prentjie probeer sit, dan het jy hul klaar verloor, want die ozzies weet nie veel van die buitewêreld nie, wat nog te sê van Suid-Afrika. En natuurlik is die van ‘n groot gesprekspunt, want dié kan hul nie uitspreek nie, so gewoonlik is ek sommer net “miss F”.
Ek is van die punt af, maar wat ek eintlik wou sê is dat na al die verduidelik van wie ek is, hoe die van nou eintlik uitgespreek word en waar Suid-Afrika nou eintlik op die wêreldkaart inpas, is dit chaos rondom my. Hulle praat, pluk kryte uit en teken, die een lees ‘n boek, die ander een tart sy “mate” wat langs hom sit, die ander een het ‘n dowwe uitdrukking in die oge vir die dag, want vandag is weer ‘n “boaring” dag, want dis tog net ‘n “relief teacher” wat die dag moet aan die gang hou. En die spul boelies en kinders wat in die ou dae in SA al eerste ding in die oggend die lat op die boude gevoel het, net vir alles wat hulle vir die res van die dag gaan verkeerd doen, het lankal die klas op horings geneem. En vir die res van die dag is dissipline en stilsit nie in die klas sigbaar nie. Nee, al wat ek doen op so ‘n dag is “damage control” en “behaviour control”. En vir nie een van die twee is ek opgelei nie. Nee, ek is opgelei om kinders te leer en is gewoond die kinders sit stil en luister as juffrou praat, en as sy sê maak oop die boek en begin skryf, dan maak hul so. Nie die ozzies nie!! Nee, as hy nie lus is nie, dan doen hy dit nie – laat my baie dink aan die perd wat jy by die water kan bring, maar jy kan hom nie maak drink nie. Dis die spul ozzies wat ek moet probeer iets leer!!!!
Dis nou wat in die laerskool gebeur! En die hele dag sit jy met hierdie klas. Uitputtend!!! Ek bid elke minuut om, kyk elke 2 minute op my horlosie en vra vir genade, want hier moet ek myself nie verloor nie. Dis nie Afrikaanse kindertjies dié nie. Jy mag nie aan hom raak nie, jy mag skaars met hom praat, want sy regte is meer as die mense in Suid-Afrika se regte.
Met die hoërskool kinders begin die dag effens anders. Nadat ek deur die ritueel is van myself voorstel, die aksent verduidelik, die van spel en uitlê ‘n paar gelsagte terug, moet ek die vrae begin beantwoord:
“do the children really walk around with weapons?” (hulle het die fliek “Blood diamond” gekyk!!)
“do you live in a mud hut?”
“do you have malls”
“do you have razor wire around your house?” Ja my kind, sommer dubbele elektriese draad!! En dan die antwoord: “o, that must be to keep the animals out!” Ja, my “mate”, daar is baie verskillende “animals” in SA wat jy wil uithou!!!
“do you have high rise buildings?”
“do you have chocolates?”
En so kan ek aangaan met die lys vrae wat ek daagliks moet beantwoord. En weereens besef ek elke dag hoe geïsoleerd Australië is, en hoe oningelig hulle is oor die wêreld.
Maar daar is darem so nou en dan ‘n ligpuntjie. Gister stap ek by ‘n laerskool in, en dadelik word die aksent herken. Een van die meisies sê sonder om van haar inkleurwerk af op te kyk: “we have a boy from SA”.
Ek is die “Japanese teacher” vir die dag. Toevallig is ek toe die volgende periode in sy klas, en hy kon nie ophou glimlag omdat hy ‘n Afrikaanse juffrou het nie. En daar sit die mannetjie uit SA, baie bree “smile” op die gesiggie, en ek sê vir hom in Afrikaans: “vandag kan jy jou ma vertel dat jy met jou juffrou Afrikaans gesels het.” Natuurlik wil die ozzies net hoor hoe ons Afrikaans praat. Ek het op die ou end in die Japanese klas vir die kinders Afrikaans geleer. Een van die outjies wou leer tel, en ek moes dit vir hom neerskryf, en ook die dae van die week. Hy het die hele tyd die woorde geoefen en was baie trots op homself dat hy kan tel in Afrikaans. Op ‘n stadium kom ‘n ander onderwyser in die klas, en ek dog toe hy gaan dink ek is mal, maar gelukkig ken hy toe ook nie die verskil tussen Japanees en Afrikaans nie, so ek kon my les klaarmaak.
Gelukkig vir sulke ligpuntjies, anders sou ek mal word. Almal sê: “byt vas, dit word beter”. Ek hoop regtig dit word gou beter!!
Vandag loop ek weer by ‘n ander skool in, en terwyl die ontvangsdame vir my verduidelik hoe alles werk, sien ek so uit die kant van my oog ‘n jong blonde vrou wat staan en wag, en sy kyk my die hele tyd so snaaks aan. Later toe kom sy in my klas en vra” are you from South Africa?” En toe ek sê “yes”, toe begin sy Afrikaans praat. Val ek byna op my rug!!
Ek is mos op ‘n forum, waar ek baie hulp gekry het ivm die immigrasie proses na Australië.
Ek en die vrou het al voorheen op die forum gesels oor skoolhou in Oz, en so wraggies, dit is sy! Uiteindelik ontmoet ons mekaar in lewende lywe. Voel soos ou vrinne!!!!
Dit was so lekker om met iemand te gesels en te hoor hoe sy dit ervaar. Pouse kon ons lekker gesels oor hoe ons die skoolhou in Australië ervaar, en ons voel altwee dieselfde oor alles. So dis gelukkig nie ek wat besig is om mal te word nie. Dit is hoe iemand anders ook die “relief teaching” ervaar.
Ek het nou so lank geskryf, party van julle het ook al moed opgegee en gaan koffie maak of met die kinders gaan speel. Maar ek wou dit graag met julle deel.
Hierdie was nie my week nie!!!
Our Family made the "groot trek" to a new country. This is our new life ....
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
3 Day lockdown
We couldn't avoid it ....... another lockdown, starting tonight at 6pm. Only 3 days .... Let's keep our fingers crossed that it wil...
Popular Posts
-
My broer, Martin, het vir my 'n e-mail gestuur met fotos van hoe die paaie om die OR Tambo lughawe lyk, versier met vlae. Dit lyk beslis...
-
We love the Sunshine Coast. Beautiful beaches, amazing views and there is always a buzzzzz! This is as close to paradise as you can get. ...
4 comments:
Shame in die eerste plek hoop ek jy voel al beter en dat jou week beter uitgedraai het.
Dan moet ek vir jou se ek haal my hoed af vir mense wat vir ander mense se kinders skool gee. want ek glo dit is nie al dag te maklik nie.
En dan wil ek net gou deel : wanneer die mense hier by ons hoor ons is van SA dan is hulle eerste opmerking en vraag ' but you are not black' - julle kry daai een ook seker gereeld. ....
Lekker week vir julle!
O,ja nog iets, ... Ek gaan 'n baie dom vraag vra.... Maar wat is jou naam? Ek sien dit nerens nie. ....:-)
Wat jy hier beskryf het, klink op 'n haar na 'n dag in 'n Britse dag. Ek het ook begin met Supply Teaching...wat julle "relief" noem. Dis maar 'n nagmerrie. Dit is soos jy sê, die kinders weet hulle kan maak wat hul wil, want jy ken hul name nie. Skole hier in London kan maar uiters rof wees. Sterkte daar!
Nikita, ek het gehoor dit gaan maar rof in die skole in London. Sterkte vir jou ook, ek weet dit is nie grappies nie!
Post a Comment